André Mouton

Inwoners wat inwoners dien | Residents serving residents

Gebore as Eselbank, Wupperthal.   Gelukkig getroud, 3 kinders, Rooibos handelaar, plofstofingenieur, rooibos-teeboer. 

André Mouton is gebore en getoë op Eselbank, ‘n buitestasie van Wupperthal in die pragtige Cederbergstreek van die Wes-Kaap. As die eerste kleinkind in sy familie het hy saam met sy jongste ooms en tannies grootgeword, wat ‘n belangrike rol gespeel het in die vorming van sy karakter en waardes. Terwyl hy in hierdie hegte landelike gemeenskap grootgeword het, het hy ‘n sterk waardering ontwikkel vir harde werk, gemeenskapsdiens en die behoud van plaaslike kultuur en erfenis.

Sy skoolloopbaan het op Eselbank begin, waar hy sy primêre opleiding vanaf Sub A (vandag Graad 1) tot Standerd 4 (Graad 6) voltooi het. Daarna het hy sy studies by die Wupperthal Primêre Skool voortgesit vanaf Standerd 5 tot Standerd 7. Gedurende hierdie tyd het hy in die Karl Schiefer-koshuis gewoon, waar dissipline en Christelike waardes die grondslag van die daaglikse lewe gevorm het.

Na sy laerskoolopleiding het hy sy hoërskoolloopbaan by Steynville Senior Sekondêre Skool in Piketberg begin, waar hy vanaf Standerd 8 tot Matriek studeer het. Ook hier het hy in die koshuis gebly en slegs een keer per maand huis toe gegaan. Hierdie ervaring het hom geleer om onafhanklik, verantwoordelik en doelgerig te wees.

Na afloop van sy hoërskoolopleiding het hy sy studies aan Bellville Tegniese Kollege voortgesit terwyl hy in die Savio-koshuis in Lansdowne gewoon het. Hier het hy sy praktiese opleiding as elektrisiën in hoog- en laagspanning suksesvol voltooi, asook sy N3-kwalifikasie in Elektriese Ingenieurswese behaal. Hy het daarna verder studeer aan Hewat Vocational College, beter bekend as die Onderwyskollege naby Crawford en Athlone. Hy was altesaam 9 jaar op ‘n koshuis en het veral sy ma se huiskos baie gemis.

Gedryf deur ‘n besondere passie vir tegniese vaardighede en praktiese probleemoplossing, het Andre sy studies voortgesit en sy N6-kwalifikasie in Elektriese Ingenieurswese voltooi. Hy het ook na-ure studeer en sy S1- en S2-kwalifikasies aan Cape Technikon behaal.

In 1998 is hy deur Sasol Mining Initiators (SMI) as student genader om by Plessey en later Tellumat in White Road, Retreat, as vakleerling te werk. Vandaar het hy by Orica, ‘n Kanadees/Australiese mynmaatskappy, aangesluit en het 26 jaar diens gedoen. Deur sy toewyding en volharding het hy waardevolle tegniese kennis en kundigheid opgebou wat die grondslag van sy professionele loopbaan gevorm het.

Hy het saam met spanne van plofstofdeskundiges, elektroniese tegnici en sagteware-ingenieurs gewerk om gevorderde mynontploffingstelsels vir bogrondse en ondergrondse mynbedrywighede te ontwikkel en te verbeter. Hierdie projekte het uitstekende resultate gelewer en gelei tot verbeterde veiligheid en doeltreffendheid in die mynbedryf.

André het hom verder as plofstoftegnikus gekwalifiseer en moderne ontploffingstelsels op koper- en goudmyne regoor Afrika geïnstalleer. Hy het opleiding aan ontploffingsingenieurs verskaf en saam met sagteware-ingenieurs verskeie modelle van bogrondse en ondergrondse ontploffingstelsels ontwikkel. Hy was ook betrokke by kwalifikasietoetse op radiomodems, antennas en verskillende batterytegnologieë, insluitend nikkelmetaalhidried- en litiumioonbatterye.

Benewens sy tegniese loopbaan het hy hom deur die jare toenemend toegewy aan gemeenskapsontwikkeling en openbare diens. Sy passie vir die opheffing van landelike gemeenskappe het hom die respek van talle inwoners in die Cederberg besorg.

In 2015 het hy ‘n rooibostee-koöperasie met 33 lede gestig. Vandag het die koöperasie gegroei tot 55 lede en produseer dit organiese rooibostee wat aan internasionale markte verkoop word. Hierdie onderneming verseker beter pryse vir produsente en dra by tot ekonomiese ontwikkeling in die streek.

Hy help ook gemeenskappe met satelliet-WiFi-aansoeke en betaal dikwels self die installasiekoste om huishoudings aan die internet te koppel. Hy en sy span het suksesvol Suurrug en nou Menskraal se satelliet-WiFi geïmplementeer. Daarbenewens installeer hy gereeld gratis satelliettelevisiestelsels vir inwoners wat dit nie self kan bekostig nie.

In 2026 het die koöperasie sy eerste staatsbefondsing ontvang vir die aankoop van twee trekkers. Hierdie belangrike mylpaal stel die koöperasie in staat om meer grond te bewerk en die volhoubare uitbreiding van rooibosteeproduksie te ondersteun.

Hy bedryf tans ook ‘n sopkombuis in Wupperthal. Hy stel ‘n voltydse werker aan om die projek te bestuur en voorsien weekliks kos aan behoeftige inwoners, bejaardes en pasiënte wat die plaaslike kliniek en dokter besoek. Veral in die dae voor SASSA-uitbetalings speel die sopkombuis ‘n belangrike rol deur warm maaltye aan kwesbare gemeenskapslede te verskaf.

Verder gebruik die koöperasie ‘n gedeelte van sy wins om grondpaaie op die buitestasies in stand te hou. Hierdie paaie is dikwels die enigste toegang tot skole, winkels en gesondheidsdienste. Deur hierdie werk help Andre en sy span om te verseker dat inwoners toegang tot noodsaaklike dienste behou.

Sedert André Mouton in 2023 as die WyksRaadslid van Wupperthal verkies dien hy sy gemeenskap met toewyding, integriteit en onderskeiding. Hy put uit sy uitgebreide tegniese ervaring, sy leierskapvermoë en sy diep begrip van die uitdagings waarmee landelike gemeenskappe daagliks gekonfronteer word. Sy lewensreis – van Eselbank tot tegniese spesialis, entrepreneur, gemeenskapsleier en wyksraadslid – getuig van deursettingsvermoë, diensbaarheid en ‘n onwrikbare verbintenis om ‘n positiewe verskil in die lewens van ander te maak.

Kwalifikasies:

MatricSteynville Senior Sekondêre Skool, Piketberg

NTC 6 – Elektriese Ingenieurswese – Cape Technikon

Hewat Vocational College, beter bekend as die Onderwyskollege naby Crawford en Athlone.

All leaders:

proportional leaders

dr ruben richards

Deputy Mayor

emerine mashall

Wyk 2 (Citrusdal)

ward councilors

Maxwell Heins

Wyk 3 – Speaker

andré mouton

Wyk 6

leadership

Martin Bergh

Leadership